Die Kongo kinders

Ek sien die klein, pikswart seuntjie op die trap sit. Sy broodjie is in sy een hand terwyl hy konsentreer om met die teelepel die samp en mielie mengsel op die broodjie te smeer. Om hom gil een kind op ‘n ander, want klaarblyklik het “hy my eerste gestamp!”, ‘n groter seun stoei ‘n kleintjie van ‘ n stoel af en ‘n krulkop dogtertjie probeer verwoed ‘n plekkie in die chaos inwikkel. Tussen dit alles sit hy rustig en eet sy broodjie. My hart breek in klein stukkies as ek kyk na die netjies kleertjies, altyd skoon gewas. Sy sussie (of is dit niggie? wie weet) is ook altyd netjies uitgevat in ‘n rokkie. Wanneer ek met hom praat staar hy met groot ogies na my. Hulle verskyn altyd daar van Gugulethu se kant af, maar praat Afrikaans soos ek en jy, hier tussen die Heideveld-klomp. As ek met my mazda om die hoek jaag staan hulle gewoonlik in die straat en loer vir my, daag sekondes daarna by die huisie op. Die meisie hou van fotos, weet ek, en glimlag breed as my kamera uitkom. Die seuntjie is stil, en sit gewoonlik sy vinger in sy mond as ek die kamera na hom toe mik.

Vandag bekyk ek hom maar net soos hy rustig sit. Ek wonder wat hy alles in daardie stil gedagtes van hom begrawe.

Twee dae later stap ons na van die groter Kongo-kinders se huis. Blykbaar bly hulle net hier om die hoek, in ‘n erf waar ek al menigde kere verby gestap het. Die tweetjies wat hier bly is bietjie ouer. Ek’s onseker of hulle familie is van die twee kleintjies, maar kan netsowel. Hulle ogies en glimlaggies is spierwit teen die donker Afrika velletjies. Die jonger seun se mooi maniere het selfs my pa se hart gesteel. As mens vra watter skool hy in is se hy saggies “Dagbreek” en as mens vra hoe gaan dit, is die antwoord altyd “goed.” Afrikaans klink vreemd uit hul monde, maar tog pragtig. Hoekom dan nie? Hulle bly ook hier in Heideveld.

Daardie dag loop ons by die erf in, en ek mik na die voordeur. Die vrou saam wie ek is, lei my egter om die hoek van die hoof-huis en ons kom af op die kleinste kamertjie. ‘n Wasgoedlyn, gemaak uit gewone tou, met twee skoon gewasde hempies span van muur tot muur. Ek besef skielik dat dit is dit. Hierdie piepklein kamertjie, beduidend kleiner as my sitkamer, is hulle huis. Hulle hele huis. Vir twee seuns, ‘n mamma en ‘n pappa. Daar pas skaars ‘n bed in.

Vir ‘n oomblik weet ek nie hoe of waarheen nie. Vergeet skoon hoekom ons daar is. Al wat ek wil doen is huil, maar ek weet dit maak nie saak nie. My trane, my hartseer, is selfsugtig teen hul swaarkry. Ek wonder vir ‘n oomblik of ek my huis vir hulle kan gee. Ek wonder oor alles. Oor die lewe.

Amper ‘n week later het ek steeds geen antwoorde nie. Ook geen rus nie. Soms maak ek my hart toe en verwyder my gedagtes. Maar al hierdie help hulle nie. Die hartseer, die gedagtes, die blog skryf. Selfs die bietjie liefde wat hulle elke Woensdag kry verander nie die bed waarin hulle slaap nie. Niks maak hulle klein huisie groter nie. Niks verander die strak verskil tussen die goedgemanierde jong seuns en die omstandighede waarin hulle bly nie.

Soms is die lewe net flippen, flippen unfair.

Advertisements

0 Responses to “Die Kongo kinders”



  1. Lewer Kommentaar

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s





%d bloggers like this: